My ding met brooddeeg

IMG_7888

Wat skep ‘n meer huislike atmosfeer as die warm walms van ‘n tuisgebakte brood? Dit is ‘n reuk wat al jou sintuie prikkel nog voordat jy ‘n enkele hap geneem het – jy hoor die korsie tussen jou tande kraak, jy sien die botter songeel in ‘n sny brood wegsmelt, en die afwagting op daardie eerste hemelse mondvol laat jou smaakknoppies swymel.

Ek is ‘n volslae brodolis. En daar is geen rehabilitasieprogram wat my broodsober sal kry nie.

Maar my fassinasie met brood gaan verder as die sinlike genot van ‘n saamgekoekte bondel koolhidrate wat graag op al die verkeerde plekke in my lyf wil nesskop. O nee, dit begin by daardie louwarm bal brooddeeg onder my handpalms, die fermenterende reaksie van die gis wat familiêr in my neusgate kom nestel en die veelsydigheid van die stuk ‘klei’ in my hande.

Met enkele bestanddele, afgewissel in verskillende verhoudings, kan jy magiese baksels by jou oond uitryg. Boerbrood, Franse brood, Foccacia, Ciabatta, kaneelbolle, pizzakors en … selfs hamburger buns en hotdog rolls (wat jy ook self moet maak as jy in Muganza bly).

‘n Behaaglike gevoel vervul my wese wanneer ek die uitgerysde brooddeeg met my regtervinger poke. Geduldig wag ek dat die vingerholte in die deeg langsaam weer uitdy – ‘n teken dat die rysproses suksesvol was.

Terwyl ek kyk hoe die brooddeeg die leegte stadig toegroei, wonder ek hoekom ek nie elke lewensdag soos ‘n bal uitgerysde brooddeeg kan tegemoet gaan nie. Wanneer iets of iemand ‘n pynholte in my menswees veroorsaak, groei dit net beheersd terug na die oorspronklike ongeskonde toestand. En ek gaan voort om my bedoelde lewensbrood te bak.

Maar nee, sonder waarskuwing sal ek net een oggend wakker word, nerwes dún uitgerol soos ‘n stuk filodeeg. As ek (en enige ander wese in die nabyheid) mooi met my werk, kan daar ‘n paar besonderse spinakopitas te voorskyn kom. Maar die kans op ‘n faling is groot. Filodeeg is ‘n deeg vol nukke.

En o wee, die choux-deegdag! Vir ‘n roompoffertjie of éclair om suksesvol te wees moet die stoom geleidelik tydens die bakproses opgebou word en dan beheersd met ‘n klein prikkie vrygestel word. Indien nie, is daar geen holte waarin die room geskep kan word nie, maar slegs ‘n drillerige deegkern. Let op die stoom wat behéérsd opbou en op die régte tyd moet ontsnap. Dit is ‘n emosionele vaardigheid waaraan ek gewoonlik op choux-deegdag ontbreek. Ek sê maar net weer, o wee, wat ‘n kata-choux-fiese dag!

Die grootste ellende is die dag van die boring broskorsdeeg. Nie veel kan skeefloop nie, nie veel risiko’s nie, maar ook weinig opwinding. ‘n Broskors kan op sy eie nie ‘n flopvulsel red nie. Op ‘n broskorsdeegdag ploeter ek lusteloos voort en doen wat ek moet doen. Dié dag moet asseblief tog net klaarkom.

Van almal bly die brooddeeg vir my die veelsydigste. Maar na ‘n oomblik van bepeinsing moet ek bysê, ‘n hele bakkery net vol brode sou seker ook nie deug nie.

Wat ‘n jammerte jy weet nie vooraf in watter deegpersoonlikheid jy die volgende dag gaan ontluik nie. Dan sou jy mos behéérsd en deugsaam die dienooreenkomstige voorbereidings getref het.

One comment

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s