Nostalgiese beet-oomblikke

IMG_7397

‘n Skoot klap deur die huis. My ma gil bloedstollend. Stilte. En dan bars ‘n gebrabbel los. Ek en my suster hardloop die lang gang van ons Joubertinahuis af in die rigting waarvandaan die stemme kom. Ons stop in die kombuisdeur.

‘n Toneel uit ‘n Rambo movie speel voor ons af – bloed oor die stoof, teen die mure en plafon. Bloedbevlekte gordyne wapper in die warm bergwind. Twee karakters skarrel lomp rond, uit pas met die toneel, want hulle lyk nie beseer nie.

My ma en pa, natgesweet en verskrik maar vreemd-kalm, bars uit van die lag toe hulle ons gesigte sien.

Dié toneel uit my kinderdae het my laat besluit dat ek in my hele lewe nóóit ‘n drukpot sal gebruik nie, en dat ek in my hele lewe nóóit beet sal inlê nie. ‘n Drukpot, veral saam met beet, is moeilikheid soek.

Tog is dit van die kosbaarste herinneringe aan my ma en pa. Die bottels der bottels ingemaakte beet uitgepak op ‘n deken om af te koel. En dan natuurlik elke Januarie se glansende geil-oranje appelkooskonfyt; selfs nog die Januarie van die jaar waarin sy oorlede is. Moet ook nie al die geblansjeerde groenbone, in netjiese blokke in die vrieskas verpak, vergeet nie.

Die mooiste deel van dié herinneringe is hoe hulle dit saam gedoen het. Dit was telkens soos ‘n seisoenale ritueel waarvan die twee deelnemers presies geweet het wat elkeen te doen staan. My pa altyd aan die skil, ontpit of kerf. My ma doenig met die gesteriliseerde bottels en stoofgoeters. En heel laaste my ma wat die taaiwarm bottels met ‘n klam lappie afvee en op die deken neersit. Byna liefderik. My pa wat seisoen na seisoen geglo het ‘hierdie is die mooistes wat ons nóg ingelê (of gekook) het’.

Vir my veertigste verjaardag het my man en ‘n klompie hartsvriende saamgekonkel en vir my ten duurste dié grêndste drukpot – een of ander spoggerige Duitse model – gekoop. Wat moes ek doen? ‘n Mens kyk nie ‘n gegewe perd in die bek nie. Noodgedwonge het ek die grênd pot toe maar in gebruik geneem. Maar beet inlê – so nooit as te nimmer!

So kom ek die ander dag met veel meer beet as wat ek in een of twee kere sal kan gebruik by die huis aan. Die skaal van my gunsteling groenteverkoper op Kamembe se mark kan nie halwe kilo’s afmeet nie. En dan gooi sy sommer ook ‘n paar ekstra by om die klant hêppie te hou.

Terug by die huis lê en tart die klomp bete my – pragtige, klein, vars beetjies. Alte ydel sien hulle hulself wynrooi uitgedos in blink, gesteriliseerde bottels. Die aanhoudende geneul om ingelê te word, dryf my teen die mure uit.

“Vergeet daarvan,” sê ek, en gee hulle ‘n vuil kyk.

Maar die bete het gewen.

Na heelwat navorsing weet ek wat om te doen. Die drukpotmetode is maar een van vele ander maniere waarop die beet gaar kan kom, en dus nie ‘n voorvereiste vir die inmaakproses nie.

Alles verloop seepglad. En ek is die trotse inlêer van presies drie botteltjies beet; tot my skok. Daardie klomp bekkige bete het sowaar in net drie botteltjies ingepas.

Tog, as ek my kom kry, dan gaan maak ek weer ‘n draai in die kombuis om my drie botteltjies beet te bewonder.

Intussen was ek weer by die mark op Kamembe. Die volgende kooksel lê en wag vir my. Tot die groenteverkoopster se vreugde dubbeld soveel as die vorige keer.

Dit verkwik my siel om te skep, te bewaar en nie te vermors nie.

(Foto’s: Die inmaakproses en die vegetariese pizza wat op dieselfde dag nog met die een botteltjie beet gemaak is.)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s