Vergenoegdheid ontgrendel ‘n bevange hart

Behalwe dat ek vir piesangs in enige vorm gril, is ek erg kloustrofobies, tuimel aan die introvertkant van die introvert-ekstrovert-skaal af en het ‘n persoonlike ruimte so wyd soos die diepblou see. Verder het ek soos enige ander lid van die homo sapiens spesie my kwota nukke en eienaardighede.

Die hele idee omtrent inperking strook dus nie met my persoonlikheidstipe nie. Dit wek ‘n benoude hysbakgevoel by my op. Die inperking het op 20 Maart in Rwanda begin en word, veral in Kigali, bitterlik streng afgedwing. Feitlik alle aangetekende Coronagevalle is tot op hede tot Kigali beperk.

Hoewel ons vir kosvoorrade Kamembe toe mag ry, mag ons nie uit ons distrik beweeg nie. Dit het ‘n ongemaklike invloed op verskeie kosprodukte, soos suiwel en vleis, wat hoofsaaklik uit Kigali kom.

Máár hier in ons afgesonderde hoekie in Rwanda word al die inperkingreëls nie so nougeset toegepas nie. Onder andere laat die weermag ons nog toe om te gaan draf, solank jy alleen is. ‘n Voorreg wat ek koester in die afwesigheid van ‘n stukkie vleis en vele ander ‘luukse’ produkte.

‘n Ander dilemma het egter aan ons deur kom klop. Kennisse uit Burundi was gedurende die week voor die inperking met vakansie in Rwanda. Na lang stories en baie dramas is hulle in Rwanda vasgegrendel – Rwanda wou hulle nie deur die grenspos hier by ons laat uitgaan nie omdat Burundi hulle nie anderkant sou inlaat nie. Hulle was gestrand. Soos enige barmhartige Samaritaan sou doen, het ons ons huis se deure vir hulle oopgemaak.

Vir vier weke, totdat alternatiewe reëlings getref is, het ons die Burundese plakkers gehuisves. Met twee bekkige kleuters van twee en vier jaar oud het die dinamiek van ons bestaan dramaties verander. Oggend vir oggend moes ek seker maak ek storm in ‘n mensvriendelike bui die kombuis binne vir my eerste koppie koffie, want daar kon reeds ‘n plakker aan’t werskaf wees.

Die seuntjies is gedissiplineerd, maar woelig en kan vir hulle eie veiligheid nie te lank onder jou oë uit wees nie. Soms is daar kattekwaad aangevang. Dikwels het hulle by my op die kombuistafel gesit en ‘help’ koek bak of kos maak.

Hulle vergaap hulself aan die kleutermanewales van my seuns op die digitale fotoraam in die kombuis. Menigmaal moes ek die storie agter ‘n foto van jare gelede vertel. Die twee outjies klouter pens-en-pootjies binne die hartsholte wat deur die verlange na my seuns uitgekalwe is.

Maar soos die dae, en later weke, verbysleep, het die engte my begin wurg. My persoonlike ruimte wou nie meer in my huis inpas nie, dit wou nie meer in die Ruzizi-distrik inpas nie, en ook nie binne die beknopte landsgrense van Rwanda nie.

Dit wou uitbreek. Suid-Afrika toe. Na my seuns wat by ons huis in Langebaan is. Na my huis waar ek ver oor die strandmeer kan uitkyk. Die wurgende gevoel het my onsensitief vir die mense om my gemaak. Dit het my verby die nood van die hordes armes om my laat kyk.

Tot die dag dat sy weifelend haar hand oor myne plaas. Haar oë sê dankie. In Kinyarwanda, waarvan ek nie ‘n woord verstaan nie, murmel skugter woorde uit haar mond. Sy sê dankie dat ek vir ‘n tweede week in ‘n ry my groente by haar kom koop dat sy nou ‘n eksta geldjie het om broodnodige behoeftes vir haar gesin te koop dat dit vir haar moeilike tye is om na haar gesin om te sien dat ek asseblief haar weer moet ondersteun dat …

Die groentemark in Kamembe wat nou feitlik doodstil is, kry weekliks ‘n merkbare oplewing wanneer ek en my buurvrou daar aankom – alle inperkingsreëls vergete. ‘n Reuk van knoffel gemeng met dié van ander kruie en speserye stoot benoud in my neus op. ‘n Bos skel-oranje wortels word wild voor my gesig geswaai. ‘n Ander groenteverkoper besing luid die lof van ‘n tamaai groot pampoen. Omdat ek laasweek 2 kg vars ertjies gekoop het, is dit vir die ertjieverkoper ‘n uitgemaakte saak dat ek dit hierdie week weer gaan doen. Ek beland byna binne-in die reuse mandjie beet wat intussen nadergetrek is sodat ek beter kan sien.

Die desperate kyk in die groenteverkopers se oë noop my om soveel moontlik van hulle te ondersteun. Maar telkens keer ek terug na die mooi vrou met die sagte oë. In Afrikaans belowe ek dat ek elke keer by haar groentehoekie sal aandoen. Sy verstaan. ‘n Bossie pietersielie word gratis in my hand geprop. Om net wéér dankie te sê.

Die groenteverkoopster van Kamembe het my weer sensitief gemaak vir die wêreldwye nood in hierdie moeilike tyd. In die lig hiervan

word my surrogaatland ‘n geleentheid waar ek in my oorvloed kan dien;
word ‘n medium grootte huis waarin twee gesinne na my mening net-net inpas ‘n paleis;
word kennisse vriende wat die sambreel in die stormweer help vashou;
word ‘n huilende kinderstemmetjie die dissonante klank in die simfonie van die lewe waar liefde, warmte en kos in oorvloed beskikbaar is;
word ‘n drafsessie in die pragtige natuur dankbaar aan my hardloopmaters in SA opgedra;
word vergenoegdheid die sleutel om ‘n bevange hart te ontsluit.

(FOTO’S: Die pragtige Rautenbachgesin uit Burundi + my en my buurvrou, Tina, se besoek aan die Kamembemark)

4 comments

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s