Blinknuwe kombuiskrane

IMG_7193.jpg

mantra-agtig murmel ek vanoggend alle kras en kru woorde wat ek in afrikaans engels duits frans kinyarwanda en selfs gehawende spaans ken terwyl my boggel bolyf vorentoe-agtertoe-vorentoe-agtertoe oor my kruisbeen “pose” op my bed wieg omdat ek sukkel om my varkies mooi in ‘n troppie te hou want hulle wil soos malgoed kombuis toe hardloop om weer te gaan kyk mantra-agtig murmel ek vanoggend alle kras en kru…

In hierdie huis waarin ons nou net-net twee jaar woon en wat spesiaal vir ons ‘oorgedoen’ is, het ek al drie stelle kombuiskrane deurgewerk. Nie omdat ek ‘n hotel bedryf (al voel dit soms so) en nie ‘n skottelgoedwasser het nie. Nee, bloot omdat dit cheap-stuff-made-in-china-kombuisware (gemors? – te ‘n negatiewe woord!) is.

Die goed hou net nie. En met elke nuwe installering word nuwe gate in die muur of papierdun vlekvrye staal opwasbak ingemoer. Skuus vir die woord, maar hier word alles met ‘n hamer reggemóér.

Die eerste twee was ewe grênd mixers. Toe die tweede stel egter die gees gee, is daar nie ‘n nuwe een in die stoor nie (wat ‘n minimum wagtyd van ses maande beteken). Maar hier word kreatief gedink. Fluitend en vrolik kom twee fabriekswerkers met twee bloedrooi buitekrane (pas uitstekend by my made-in-china-kenwood wat ook nog net ten dele werk) en ‘n hamer hier aan.

Ek kan my oë nie glo nie. Maar ek swyg. Ek vermoed dat skaars 10% van Rwanda se plaaslike bevolking lopende water in hul huise het. Die ander 90% moet dit ver afstande oor berge en deur dale aandra.

Om die waarheid te sê ek het ‘n baie spesiale verhouding met Manie en Miena, my mooi rooi retro-krane begin opbou. (Ja, hier kry nie nét lewende goed – soos Kakkie Kakkerlak, Lafras Verkleurmannetjie, Annabel Hoenderhen en Frikkie Brulpadda – name nie. Seker vanweë die verlange na my katte en kinders.)

Boonop is ek dankbaar vir lopende water in my huis.

Vanoggend sit ek voor my rekenaar en werk, maar iets pla my. Meer as die gewone fabrieksgeraas. En dan vlieg ek op! Ek weet. ‘n Hamer kap iewers in my huis.

In my kombuis lê Manie en Miena onwerdig eenkant neergesmyt. ‘n Blinknuwe mixer word onseremonieel in hulle plek ingetimmer. Nuwe gate gaap gruwelik vanuit die opwasbak. Twee fabrieksgesigte (ewe met harde veiligheidshoede op) verhelder met breë glimlagte toe hulle my sien. Want hulle is mos nou besig om die muzunguvrou se hart báie bly te maak. Onwillekeurig glimlag ek terug.

Murakozi cyane! Baie dankie”. Wat dan nou anders.

Ek draai bedaard om en stap terug na my kamer. Pens-en-pootjies op my bed (dié sal ook seker een of ander tyd ‘n naam moet kry). Ek is so moeg ordentlik gewees.

mantra-agtig murmel ek vanoggend alle kras en kru woorde wat ek in afrikaans engels duits frans kinyarwanda en selfs gehawende spaans ken terwyl my boggel bolyf vorentoe-agtertoe-vorentoe-agtertoe oor my kruisbeen “pose” op my bed wieg omdat ek sukkel om my varkies mooi in ‘n troppie te hou want hulle wil soos malgoed kombuis toe hardloop om weer te gaan kyk mantra-agtig murmel ek vanoggend alle kras en kru…

(NS: Skuus vir die oormatige gebruik van ronde hakies. Anders hol die varkies die wêreld vol.)

3 comments

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s