Irritasies wat perspektief bring

Irritasies perspektief - 1

Laasweek sit ek eenoggend voor my rekenaar, vervaard besig om ‘n projek te probeer voltooi. My tyd is min, want die aand kry ek ook ‘n magdom Suid-Afrikaners (besoekers by die fabriek & almal van ons wat hier woon) vir aandete en nog ‘n 100 ander dingetjies.

Eers kruip die skaduwee stadig voor die venster in, asof dit moed skep vir die taak wat op sy hangskouers rus. Geïrriteerd raak ek bewus van die skaduwee, want ek weet vlees en bloed moet volg.

Dawid se bleikswart-en-rooi uniform kleur die skadukol tydsaam in. Verleë en met oë wat wag dat ek sy spreekbeurt aankondig, staan hy daar. Ek weet hy weet dat ek nie eintlik gesteur wil word nie.

“Yes, David?”

Hortend en stortend verduidelik hy dat Jeannette, my vorige huishulp, my wil sien. Sy is by die voordeur. My moed sak in my skoene, want ek weet dié besoek gaan óf moeilik wees, óf tydrowend, óf albei.

Paaiend sê ek vir David dat dit reg is; ek sal haar voor kry.

Toe ek op die stoep kom, staan David ook reeds in die agtergrond, gereed om te tolk. Bella staan en krap-krap in die bedding net links van die stoep, binne hoorafstand van ons.

David verduidelik dat Jeannette kom groet het, want sy (ver)trek die komende Vrydag Kamembe toe. Ek nooi Jeanette binne vir tee; en vir David, want hy moet tolk; en vir Bella, want sy kan haar oë nie van Jeannette se baba afhou nie.

Gideon, Jeannette se man, is om sensitiewe redes deur die sekuriteitsmaatskappy Kamembe toe verplaas. Beide se families woon egter hier in Muganza.

Die teedrinkery is maar ongemaklik nadat al die formaliteitspraatjies afgehandel is. Jeannette is omgekrap omdat sy Kamembe toe moet gaan. Ek probeer vir haar ‘n paar voordele uitlig, maar die onderlip bly dik, en raak soms bewerig.

In my kop tik die minute meedoënloos verby, totdat ek uiteindelik verskonend opstaan.

Ek groet Jeannette en haar pragtige seuntjie met ‘n knop in my keel.

Een van die bittermin ondersteuningsnetwerke wat ‘n arm persoon in Rwanda het, is sy uitgebreide familie. Terwyl sy in die snikhete oggend met die baba onder ‘n kombers op haar rug wegstap, ween my hart vir Jeannette.

Selfs in ‘n Suid-Afrika waar ons jongmense soveel uitdagings in die gesig staar, is my twee seuns se seëninge oorvloediglik meer as waarvan enige jongmens in Rwanda kan droom.

Irritasies perspektief - 3Irritasies perspektief - 2

 

 

5 comments

    1. Baie dankie, Rondomtaliedraai!

      Ek het wel ‘n Facebook Page, Rwanda Memoires, waarop hulle baie welkom is om my te volg. Ek het so ‘n paar weke gelede al my bloginskrywings genommer as stories, op hierdie blad geplaas. Ek het ook na elke storie die skakel na my blog geplaas wat iemand direk by die betrokke bloginskrywing sal uitbring, juis ter wille van die foto’s. ‘n Mens mag net vyf foto’s saam met elke teksinskrywing op ‘n Facebook Page plaas.

      https://web.facebook.com/rwandamemoiresblog/

      Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s