Borrelwaters van die Kivumeer

Borrelwaters - 1 (1)

Hoewel die wetenskap nog nie kon bevestig waarom nie, is dit ‘n gegewe dat water ‘n kalmerende invloed op die menslike psige het. So ook op myne. Met een uitsondering …

Gespanne snuif-snuif ek in die lug. Volgens Wikipedia is ‘n lae konsentrasie koolstofdioksied feitlik reukloos, maar wanneer die konsentrasie hoog raak, kry jy ‘n ou suurreukie. Ek ruik niks. Volgende druk ek versigtig, nog steeds effe angsbevange, ‘n vinger of ‘n toon in die water, waar ek my ookal langs die grote Kivumeer bevind. Geen borrelagtige watersimptome word egter deur enige van my sintuie waargeneem nie. Dan, besluit ek gewoonlik, is als seker nog oukei.

Die Kivumeer is 90 km lank en 50 km op sy breedste. Die meer lê op die grens tussen die DRK en Rwanda en lê in die Albertine Skeur. Die totale oppervlak van die meer beslaan 2 700 m2 en is die agste grootste meer in Afrika. Die bodem van die meer lê in ‘n skeurvallei wat stadig besig is om wyer te skeur en dus vulkaniese aktiwiteite tot gevolg het.

Dit dan kortliks die geografiese gegewens.

Waarom dan die angstigheid op die oewer van dié pragtige meer?

Navorsers is van mening dat die Kivumeer elke 1000 jaar onderstebo gedolwe word (“limnic eruption” of “lake turnover”). Dit is ‘n baie skaars natuurramp waartydens opgeloste koolstofdioksied skielik vanuit die dieptes van die meer boontoe bars, byna soos wanneer ‘n blikkie Coke geskud is voordat dit oopgemaak word. Vervolgens vorm die koolstofdioksied ‘n gaswolk wat alles wat langs die meer lewe, versmoor.

Tot dusver is nog net twee van hierdie unieke natuurrampe in die onlangse geskiedenis aangeteken. Beide mere is in Kameroen geleë. Die een uitbarsting het die lewe van 37 mense in 1984 geëis en die ander die lewe van 1700 mense en 3500 stuks vee in 1986. Sou so-iets in die klein, digbevolkte Rwanda gebeur, sou die dodetal, wat ook die DRK ernstig sal raak, enorm wees.

Vir ‘n uitbarsting om plaas te vind moet die meer feitlik 100% aan koolstofdioksied versadig wees, en dan deur ‘n sneller soos ‘n vulkaniese uitbarsting, aardbewing, wind- of reënstorm of grondverskuiwings geaktiveer word.

Wetenskaplikes is gelukkig van mening dat die CO2-vlakke in die Kivumeer darem nog nie te hoog is nie. Hulle is wel bekommerd oor twee ander verskynsels: die hoë vlak van metaangasse (ja, wragtag nóg gasse!) en die stygende oppervlaktemperature van die meer. Daar is wel met projekte begin waarby die vlambare metaangasse onttrek word om as energiebron vir kragstasies te gebruik.

Maar die alledaagse sleurgang van die Rwandalewe kan nie deur gasse wat diep onder die meer rondborrel, gehalt word nie. As jy vandag nie werk nie, het jy vanaand nie kos nie. Vir baie Rwandese is die Kivumeer hul lewensbron. Isambaza (‘n klein sardienagtige vissie) en Tilapia word in die meer gevang. Tilapia is ‘n héérlike vis waarvan ons al menige oor die kole gebraai het.

Ook die expats het die meer nodig (behalwe vir al die tilapias wat ons tot dusver gebraai het). Dit is ons bron van ontspanning en ontsnapping wanneer die verlange huis toe te veel raak. Byna al ons gunstelingplekke lê langs die reuse meer – soos Kamembe, Karongi en Gisenyi.

So ‘n week of drie gelede het Karlwim met die eienaar van ‘n Tilapiaplaas op die meer by Kamembe gereël om ons op hul ‘visboot’ uit te vat. Al die Suid-Afrikaners en Keniane wat by Cimerwa werk, het saamgegaan. Ek het vir ons broodrolletjies gebak, en kiste vol koue bier en koeldrank is natuurlik nie agterweë gelaat nie.

En wat ‘n heerlike dag was dit nie op die meer nie! Niks wat jou soveel kan opbeur soos vrolike geselskap nie. Die Suid-Afrikaners en Keniane het ‘n manier om mekaar se siele tot vervelens toe uit te trek, maar ook mekaar se laste te help dra.

As ons vir of weens natuurrampe, misdaad, ouderdom, siekte (en daar is baie om nog te noem) begin wegkruip, dan gaan ons die lewe ‘ongeleefd’ deur ons vingers laat glip.

Foto’s:

Party het meer as ander gesukkel om oor die visserskuit tot op die groot boot te klouter:

Ons het heerlik saam gekuier:

Daar word hoofsaaklik imbaza en tilapia in die meer gevang. Duitsers het ‘n tilapia-visplaas by Kamembe begin. Dit is te sien in die foto met die groen nette:

Karlwim en Charles, ‘n Franssprekende Belg wat by die tilapiaplaas betrokke is:

Borrelwaters - 10

Lekker swempret:Borrelwaters - 11Borrelwaters - 12

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s