The time is not for us to decide

 

IMG_5805

Kort voordat ek in Mei Suid-Afrika toe is, staan ek eenoggend in die kombuis en rondtrippel. Ek wag vir Esther. Vroegoggend het die nuus aangekom dat Gervais se babaseuntjie deur die nag gebore is.

“Gervais bêbê,” lig ek haar in toe sy kom. Die sagte trek wat oor haar gesig kom lê, sê vir my dat sy verstaan.

“Gervais bêbê Gervais, Bennie, Thomas, David, Mateso …,” en so noem ek vir haar al die name van die mans vir wie ons twee ken om die geslag van die baba oor te dra. Maar Esther verstaan nie. Ek herhaal die rympie met baie gebare, maar Esther verstaan nog steeds nie.

“Gervais bêbê OYA Esther, Margarete, Bella, Tina …,” en al die vrouename waaraan ek kan dink. Maar Esther verstaan nie. Ek herhaal die rympie en hou hande met twee denkbeeldige lemoene daarin hier voor my bors, terwyl ek oya-oya beduie. Die frons bly tussen Esther se wenkbroue. Ek raak bekommerd, want as ek met mimiekende gebare ‘n seuntjie moet voorstel, val sy sweerlik flou neer. Esther is ‘n stigtelike kerkvrou. Ek probeer weer die oya-oya-lemoengebare. En daar verdwyn die frons. Esther lag lekker, en ons is saam bly oor ‘n nuwe lewe. (oya = nie)

Later die middag roep Esther my om haar te volg. Sy loop by die voordeur uit, ek sleepvoetend agterna, want ek weet hier kom nou weer ‘n ding. Dan roep sy vir David. Ek aanvaar dat David vir haar moet kom tolk. Maar toe David op die stoep staan, is Esther terug die huis in. Skuins oor haar skouer sê sy vir David iets wat ek vertaal as: “Toe, praat nou.”

Stotterend en verleë en in gebroke Engels ontvou David se “big mistake“. David het ‘n babaseuntjie van reeds by die ag maande, maar in hul kultuur is dit ‘n groot taboe om ‘n buite-egtelike kind te hê. David is nog ongetroud. Ek is skoon hartseer omdat hy nie die moed gehad het om my te vertel nie. Dan raak hy weer bewoë as ek vir hom sê dat God nie “mistakes” maak nie, en dat hy nooit (onbewustelik) by sy seuntjie die idee moet skep dat hy ‘n “mistake” was nie. David sê dít is ‘n groot les wat hy nou geleer het. Dankbaar draai hy weg – dankbaar vir die les wat hy kon leer, of dalk dankbaar vir die feit dat ek hom nie oordeel nie, of dalk beide.

Met baie detail en misverstande (waarmee ek jou nie gaan verveel nie) reël ek vinnig ‘n babaparty sodat ek Jeannette se baba van ongeveer drie weke en Gervais se baba van ‘n week oud, kon sien voordat ek SA toe sou vertrek. Ongelukkig kon David se ‘vrou’ en baba nie kom nie.

In my geestesoog sien ek hoe ek my tuintafel, so ‘rustic’ dat dit byna aan lamlendig grens, feestelik gaan dek. Onder die reuse, skaduryke avokadopeerboom. Maar die oggend van die partytjie pla iets my van voordag af . Toe ek Karlwim se mening daaroor vra, bevestig hy die kriewelrigheid in my gemoed.

“Nee, dek vir hulle binne by die eetkamertafel met die gestoffeerde stoele. Dit sal hulle meer spesiaal laat voel,” is sy raad.

Ons het eers ‘n fotosessie na die aankoms van die uitgenooides: Gervais met sy vrou en baba, Jeannette met haar man en baba, David, Bella en Esther. Jeannette en Gervais se seuntjies is beeldskoonmooi, uitgedos in kleertjies uit Suid-Afrika.

Daarna skuif ons na die gedekte tafel. Ek verlekker my in die stralende gesigte om my. Esther vervul op eie inisiatief die rol van gasvrou. Sy dra potte vars tee aan, skep telkemale iewers nog ‘n verbysterend-groot stuk koek of tert in. (Die Rwandese is klein mense, maar verorber berge kos omdat hulle ver stap elke dag en fisies hard werk.) Ek sit rustig en kuier met ‘n baba op die skoot.

Ek merk op dat Bella, ma van ‘n agtjarige dogtertjie, byna nie haar tee gedrink kry nie, want sy het die hele tyd een van die babas op haar skoot.

Bella, you must have the next baby,” laat ek onbedagsaam en sonder om te dink van my hoor.

The time is not for us to decide,” kom dit saggies van David.

Wyse woorde wat David deur ervaring verwerf het. Woorde wat van daardie dag af by my vasgesteek het omdat dit swaar dra aan die waarheid – ‘n waarheid wat sielvrede bring.

(NS: Sommer net vir diegene wat vergeet het waar almal hierbo op my werf inpas, of nie geweet het nie: David en Gervais, ons twee sekuriteitswagte; Jeannette, ons eerste huishulp wat ons saam met die huis geërf het, maar ons paadjies moes noodgedwonge skei; Bella, ons tuinwerker en Esther, ons huidige huishulp.)

Foto’s:

Jeannette saam met haar man en baba

Gervais saam met sy vrou en baba

Ons het lekker gekuier

Esther, Bella en David elkeen met ‘n baba

David het later met sy seuntjie kom spog

3 comments

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s