Is jy nog dankbaar dat jy ‘n werk het, ten spyte van …?

IMG_5735

Die ander dag bespreek ek en Esther oudergewoonte die dag se huistake in ons gewone handgebare + die 7 Engelse woorde wat sy ken + die 10 Kinyarwanda-woorde wat ek ken. Toe ek wil omdraai om my me-time badritueel te gaan beoefen, raak ek bewus van die gevoel. ‘n Gewaarwording wat ek in my interaksie met Esther al baie goed leer ken het.

Daar is niks sinisters aan die gevoel en die hele aura wat ek rondom dit ervaar nie. Al waaroor dit gaan, is dat Esther nog iets wil sê. En gegewe die kommunikasiebeperkinge tussen ons is dit ‘n hele gedoente as Esther iets buiten huistake op die hart het. Dit het al tot baie interessante misverstande gelei.

Met dié dat ek sommer wil omdraai en vir David, ons sekuriteitswag wat in skamele Engels moet kom tolk, wil roep, voel ek dat die gevoel nog ‘n aks verder verdiep. Ook dit ken ek al baie goed – Esther wil nie eintlik hê dat David deel van die gesprek moet wees nie. Naas die diép gevoel sien ek ook dat sy met haar selfoon in die hand staan (‘n selfoontjie soos die heel eerste een wat die langer-geleefde lesers onder ons jare gelede besit het; slimfone is so skaars soos seevars sushi in Rwanda).

Ek beduie vir haar dat sy moet voortgaan. Met die selfoon in die hand, liniaalwydte van haar oë, begin sy dapper met dit wat sy wil sê. Kort-kort loer sy op die selfoon en veg dan moedig voort in hierdie vreemde taal wat nie ‘n lekker lê op haar tong kan kry nie. Ek verstaan niks. Sy probeer weer. Uiteindelik lei ek uit die enkele geradbraakte Engelse woorde wat ek kon herken af dat sy vroeër, so rondom 12-uur, iewers wil gaan. Ek aanvaar dat dit iets met haar kinders te make het, maar is nie seker of sy weer gaan terugkom nie. Met groot gebare verduidelik ek dat dit in orde is; eintlik hoef sy sommer glad nie weer terug te kom in die middag nie. Maar Esther lyk afgehaal. Iets is nie reg nie. Sy draai om en oor die skouer op pad deur toe laat hoor sy net “David”.

David verskyn saam met Esther in die deur. Hy verduidelik dat Esther op dié betrokke dag presies ‘n jaar gelede by ons in die huis begin werk het. Ek is stom van verbasing. My mond hang oop. Maar nie verbaas oor die spoed waarteen tyd verloop of enige ander onbenulligheidjies waaroor die mens geneig is om verbaas te wees nie. Miskien is dit nie verbasing nie. Dit is eerder ‘n hartverwarmende gevoel. Want toe Esther eers seker is dat David die boodskap verstaanbaar oorgedra het, toe val sy weer in. Skielik is David se teenwoordigheid oorbodig. Met haar lyftaal, met haar hele wese straal sy haar toegeneentheid en veral dankbaarheid oor my uit. Ek absorbeer die boodskap dat die werk by ons vir haar verskriklik kosbaar is. Dat dit vir haar kinders se onthalwe kosbaar is. Dat sy méér as die gewone, landelike Rwandavrou na haar gesin en huis kan neem. En dat sy lief is vir my. Ek en sy is beide skoon bewoë. Arme David het maar net stilweg verdwyn. Hy het met sy inkennige maar tog dierbare persoonlikheid begryp dat getolkte woorde nie verder benodig word nie.

David het later vir my verduidelik dat Esther vir Gervais, ons ander sekuriteitswag, gevra het om haar te help. Hulle het die woorde, ingeryg in mankoliekige sinne, op haar eenvoudige foontjie gestoor.

Ek wou huil omdat ek nie Esther se boodskap sonder David se tolkwerk kon verstaan nie. Ter wille van haar menswaardigheid en trots en uit dankbaarheid sou ek dit so graag self wou verstaan. Gelukkig is Esther soos ‘n ontvanklike blombossie wat onder enige goedkeuring en pryswoorde welig dra.

Foto’s:

Foto’s wat volg is nie van Esther se huis en kinders nie. Dit is sommer net ‘n tradisionele Rwandahuisie waarvan jy orals sien, onbekende kindertjies en vroue in die gemeenskap.

One comment

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s